Artisjok
Laatnag vleg ’n skielike ritseling
My stadig los
Uit swaar arms van my geliefde,
Donker suster van my dood.
Dou sak heeltemal te vroeg vanjaar
Op my grasperk en plante neer.
Takke en blare ril nog waarskuwend
As ek deur die wind na my groentetuin beur.
My flitslig skok die grootste plant
Wat haar lang, silwergrys blare vou,
Ritselend toe, dig
Om die geheime, pers, glinsterende vrug.
Raak my aan, asseblief,
Raak my nie nou al aan nie.
Uit hierdie bitter grond gebore
Tussen windhande wat my wil klief.
Ek vou die stingels versigtig weg,
Pluk ‘n paar blare en proe,
Huiwerig om my tong,
Donkergroen, suursoet parfuum van die nag.
Net een maal het ek jou so sien lê
Ná ‘n laatnagmaal van artisjok.
Jou hande was lig oor jou borste gevou,
Jou bene terughoudend gekruis.
Laag vir laag het ek jou afgeskil
Met ‘n versigtige, moedelose tong,
Tot by die diep, geheime, bitter vrug
Wat weer terugtrek tussen jou dye.
Deur strelende hande van jou geliefde,
Jou lokkende suster van die slaap
Kon ek hoor: raak my aan, asseblief,
Raak my nooit meer aan nie;
te lig om ’n groen hart finaal te klief.
© H.J. Pieterse (uit: Die burg van hertog Bloubaard, Tafelberg, 2000)
No comments:
Post a Comment